|

Laat ons julle voorstel
Van waar DJ Ossewa?
DJ Ossewa het sy ontstaan gehad op die plaas Ossewasrus sowat 5 jaar gelede. Die DJ staan eintlik vir Daniel Jakobus, wat die musikaalste van die klompie
afrikaners is.
Die Ossewa spreek vanself, aangesien die groepie manne almal baie kultuur- vas is en dan nog op die plaas ook grootgeword het.
Die groep bestaan uit 4 lede. Daar is Daniel Jakobus, Piet Pompies, Raapie Knapie en Jerbes die Leeuboer. Laasgenoemde is eintlik maar n kennis, van die buur plaas. Daniel, Raapie en Piet bly almal op Ossewasrus saam met Ouma Sanna Beskuit. Almal is Familie op die plaas.
Raapie en Daniel is broers en Piet is hul nefie.
Soos almal weet, is dit nie n maklike lewe deesdae om n boer te wees nie, en toe dit so n klompie jare gelede begin agteruit gaan met die boerdery, agv omstandighede, het Ouma Beskuit besluit om die klompie manne almal in een kraal te gooi, en hul na tante Koba toe gestuur vir sang lesse. Al was hul nou nie uitstaande boere nie, agv hul swak sig, kon hulle darem so nou en dan n noot hou, en ook n ordentelike partytjie hou. Dis toe waar als gebeur het. Na maande se voorbereiding en hard oefen het DJ OSsewa sy ontstaan gehad, en daarmee saam hul eerste konsert. Dit het so vinnig gekom en gegaan , en voor hulle hul oë kon uitvee was dit verby en het daar al hoe meer besprekings na hul kant toe gekom van regoor die land. DJ Ossewa het n wen resep gekry, lekker afrikaanse dans musiek met n komiese, lewendige vertoning. Konsertina, trekklavier, kitaar, mondfluitjie, lekker tradisioneel, met polsende ritmes en moderne afrikaanse klanke. Die manne van DJ Ossewa moes bondstaan want almal wou saam op die wa klim en die partytjie geniet.
Nie lank daarna nie, is hul eerste volwaardige album vrygestel met die titel Boeresports en alhoewel dit nou nie superster status gekry het nie, was dit die eerste groot tree in die afrikaanse musiek wereld vir die klomp opskoppers. Na sowat n jaar is hul tweede album Voor oppie wa bekendgestel, en die cd het die volk behoorlik aan die gons gehad. Daar was skielik sprake van n DVD, en oral het mense DJ Ossewa aangemoedig om hul mannewales op kamera vas te lê. So gesê, so gedaan, en hul eerste DVD Heeltemal LewenDig het sowat n jaar gelede die winkelrakke, en die sitkamers met n geweldige plofslag getref. Dieselfde DVD is ook genomineer vir n toekenning in Afrikaanse musiek.
Onlangs in 2007 het die manne van DJ OSsewa hul derde album die lig laat sien Vannie os oppie jas, wat n dubbel album is en 35 liedjies bevat. Hul het die album goed deurdink en daar is ietsie vir almal om aan te smul. Hul 2de volwaardige DVD "Manne-wa-lus" het in 2009 verskyn en blitsvinnig goue status bereik, nes die eerste dvd. Manne-wa-lus het ook die Huisgenoot Tempo Toekenning gewen vir gewildste DVD van 2009. Ook het DJ Ossewa hul 6de album "Die Groot trek...tot nou" in 2009 vrygestel.
DJ Ossewa beskryf hul musiek as Progresiewe Alternatiewe Boere Afrikaanse Opskop Dansmusiek, n heel nuwe genre in Afrikaanse musiek vermaak.
Ons is entertainers, wat daarop uit is om vir ons ondersteuners die konsert van hulle lewe te gee. Ons wil hê dat die mense van al die swaarkry, sorge, misdaad en als wat pla moet vergeet tydens die rukkie wat hul saam met ons spandeer. Dis hoekom ons van komedie in ons vertonings gebruik maak, saam met lekker afrikaanse dans musiek. n Mens moet lag ook, dit hou jou jonk.
Vandag reis DJ Ossewa reg oor die land en maak musiek vir almal wat wil luister, en saam kuier. Oud en jonk spring op en af by vertonings, skouer aan skouer. Pa en seun speel die musiek ewe hard in die motor, en oupa het weer n spring in sy stap. Die groep doen tans tussen 120 en 150 vertonings per jaar en was al op verskeie TV programme as gaste, en by n groot aantal feeste. Nou mik DJ Ossewa ook buiteland toe, om die afrikaans sprekendes te gaan vermaak daar ver oor die diep blou water.
Maar DJ Ossewa bly nederig, en as hul nie op die pad is nie, is hul hard aan die werk op Ouma Beskuit se plaas met hul daaglikse take.
DJ Ossewa is dalk nie multi miljoenêrs nie, ook nie Supersterre nie, maar een ding is verseker..........Hul kan Rock in hul taal, en solank daar mense is wat luister, sal die ossewa se wiele geolie bly.
Ossewa vir altyd!!
|